Sy is 'n korterige vrou in 'n bruin slooprok en plakkies. Sy het 'bottel-bene' soos hulle sê en groot, ronde boarms wat sy met moue wegsteek. Haar lig van kleur hare is met 'n rekkie agter vasgemaak en wanneer sy stap, kyk sy af na die grond. Haar groen oë skuil agter 'n bril en hulle soek-soek soms in andere se gesigte, se oë, rondom die monde, vir vyandskap of vriendskap.
Daar is niks in haar woorde en antwoorde en geselskap wat die tragedie verklap waarmee sy daagliks saamleef nie.
Sy plant lelies in Rehoboth se vaal sand, maak plastiek bottels bymekaar en omring hulle daarmee om beddings te vorm. Sy vee elke oggend haar stoepe af. Drie hondjies volg haar oral rond; Steffie, 'n swart tefie, Bruno, met sy pragtige skakerings van bruin, en Goretjie, 'n ou bruin reun.
In 'n hangkas in haar slaapkamer hou sy 'n blik vol fotos en een van hulle is hy.
Hulle, hy en Juanita, was saam op kleuterskool, laerskool, daardie jare was dit nog Sub A en Sub B en Standerd 1... Elkeen het apart en tog saam hul kindertyd spandeer. Hulle was in dieselfde klas, vertel sy, geweet van mekaar, maar nooit vriende nie.
Op hoërskool, in verskillende klasse, het hulle mekaar anders begin aanskou en gehou van wat hulle sien. Soos normale tieners het hulle vir 'n lang tyd op skool net van mekaar gehou en nie regtig gesels nie want albei was skielik skaam vir mekaar.
'Vreemd hoe dinge kan verander, nê?'
Toe sy Standerd 8 druip en die skool los om werk te gaan soek, het hy heeltemal uit haar lewe verdwyn. Nou en dan het sy hom iewers by 'n winkel gekry en net gegroet, of iewers heen gesien stap. Wat in sy lewe op daardie tydstip aangegaan het, weet sy tot vandag toe nie.
Sy het werk in ontvangs by die plaaslike hospitaal gekry, haar eie woonstel gehuur, 'n verhouding gehad en 'n seuntjie gekry. Die verhouding het kort daarna skipbreuk gely.
Jare later, steeds by die hospitaal, sien sy hom daar op 'n dag, en hy was anders as toe sy hom laas gesien het. Hy het haar vol selfvertroue, soos 'n groot mens, gegroet en met haar gesels, en skielik was hulle, soos destyds, daarvan bewus dat hulle nog steeds van mekaar hou. Hy het haar nommer op sy selfoon gespaar en gevra of hy haar mag bel.
'Ons was op daardie tydstip werklik verskillende mense as die kinders wat saam op skool was.'
Soveel het intussen gebeur.
Sy verhaal was kort: Hy het na skool gaan werk, verloof geraak, en getrou. Hy het twee kinders. Na baie jare saam is hulle geskei en sy gewese vrou bly op Swakopmund. Hy het daarna teruggekeer na sy geboortedorp, Rehoboth.
Sy hou ook haar verhaal kort, soos hy: Sy het 'n tiener seun. Dié se pa het verdwyn toe hy amper twee jaar oud was en nooit weer in verbinding met haar getree nie. Sy hoor gereeld dat hy glo waar en waar is, en wat en wat doen, maar sy is trots; sy en haar kind sal hom vir niks smeek nie - nie geld óf erkenning nie.
'Die tyd was reg vir ons albei.'
Hulle begin versigtig met 'n verhouding. So versigtig soos sy vandag nog stap, deur af grond toe te kyk, só het hul verhouding begin. Hy het die leiding geneem, nie soos haar vorige verhouding nie waar sy die leiding geneem het en aanhoudend uitgereik het, soms soos 'n las gevoel het, maar tog haar beste probeer het om die verhouding te laat werk.
Hy het hul uitstappies gereël, inkopies saam met haar gedoen, vriendelik teenoor haar seun opgetree, teenoor haar broers en familie, haar gereeld gebel, gereeld gekuier... Sy dieselfde.
'Maar iets het hom op 'n afstand van my gehou. Ek weet nie wat nie.'
Sy kon nie haar vinger daarop druk nie maar, hy was heeltyd koud en warm. Hy het alles reg gedoen, gedoen wat van hom verwag word, en tog was dit asof hy dit móés doen en nie wou doen nie. Sy weet hy was tevrede met haar en hul verhouding, met die stand van sake. Daar was soveel wat hy nie met haar kon of wou bespreek nie, wat hy haar nie wou vertel nie.
'Sy hart was in niks nie.'
Soos baie ander jong mense op Rehoboth, het hy met sekere verwagtinge en vooroordelings groot geword. Hy het alles gedoen wat van hom verwag word, hy het na sy ouers geluister, gehelp waar hy kon en moes, lojaal gebly aan die kerk en gemeente waarin hy gedoop is, hy - hy was baie lief vir sy vrou. Hy het gedink sy was natuurlik baie mooi. Alles aan en van haar was vir hom mooi. Haar reuk, haar stem, haar lag, haar maniere, en gewoontes... Hy het nog nooit vantevore só oor enigiemand gevoel nie.
'Wanneer het dinge verkeerd geloop?'
Hy het nie eens agtergekom nie, het niks vermoed nie. Die ondeunde uitdrukking in haar oë was nog daar, toe is dit weg. In die laaste jare kon sy skaars met hom glimlag. Hy kon nie aan haar vat nie dan stoot sy hom weg, vermy sy hom. Hul kinders het lankal vermoed iets tussen hul ouers is nie reg nie en apart met hulle gepraat, nie saam soos voorheen nie. Die laaste braai langs die see het sy nie bygewoon nie; inteendeel, hul dogter het die roosterbrood en slaaie gemaak.
Dis nie hoe sy ouers se huweliksverhaal uitgedraai het nie. Hulle was nie veronderstel om te skei nie, en tog...
Hy staan weer in die sand en stof strate van sy ou buurt waar hy as kind agter 'n ou motorband aangehardloop het, of net winkel toe en terug geloop het, terug, hierso, sonder haar, sy vrou, en hul kinders.
'Hy het gebel om te sê hy is siek.'
Sy het tydens die Covid-19 pandemie genadelose ure in die hospitaal se ontvangs gewerk. Dit was uitputtend om lang skofte te werk terwyl haar kollegas getoets en afgeboek word. Hulle moes vir tien dae in isolasie bly. Sy het gedink sy spring dit vry totdat sy op 'n dag positief toets.
Hy bel haar gereeld, hulle praat oor alles, sy sê vir hom dis net 'n ligte verkoue. Ná tien dae is haar uitslag egter steeds positief. Sy voel gesond maar, die hospitaal sê sy moet aanhou isoleer.
Hy gaan kuier by haar. Hy het inkopies gedoen. Sy is verlig en bly om hom te sien. Ek is gesond, verseker sy hom. Hy glimlag darem nou, dink sy. Hy was bekommerd. Só baie mense is besig om te sterf, mense wat hulle albei ken. Hulle het ten minste nog mekaar.
Hy bel sy kinders in Swakopmund. Dis grendeltyd. Die paaie is net oop vir noodsaaklike dienste. Die aanstekingsyfer styg daagliks nes die dodetal. Hy wil weet hoe dit met sy gewese vrou gaan. Sy kinders wil hom nie vertel dat sy iemand nuut ontmoet het nie.
Juanita was besig om klere met die hand te was toe hy bel om te sê hy is siek, hy voel nie lekker nie, hy sal 'n Grand-pa drink en maar gaan lê.
Toe sy hom later probeer bel, toe antwoord hy nie.
Die volgende oggend ontvang sy 'n boodskap van 'n kollega dat hy tydens die nag in die hospitaal opgeneem is, en weet sy daarvan? In die isolasie eenheid. Hy mag nie besoekers ontvang nie. Sy toestand is kritiek.
Sy trek haar plakkies aan, kyk af, en loop hospitaal toe.
Hulle wil haar nie inlaat nie. Sy mag hom nie sien nie.
Dit gaan nie goed met hom nie, hoor sy.
Sy is verslae, verstom oor die spoed waarteen so iets kan gebeur.
Terug by haar woonstel sien sy die boodskap: Hy is oorlede.
Sy kon dit nie glo nie.
Sy kan dit steeds nie glo nie.
'Mense in wit pakke het hom begrawe.'
Alles het so vinnig gebeur. Syne was een van agt begrafnisse daardie dag en net tien mense kon dit bywoon.
Haar voorkop frons toe sy die vars hope grond van nuwe grafte onthou wat oral om hulle gelê het en die groepe mans wat terselfdetyd nuwe grafte uitgrawe...
Sy gewese vrou en kinders was nie daar nie. Iemand het 'n ronde ruiker op sy graf geplaas. Sy het nie die kaartjie gelees nie.
Hy is net nog 'n nommer vir 'n siekte, 'n naamlose nommer in 'n daaglikse verslag, net nog 'n hoop sand in die Kalahari.
Haar hoop sand in die Kalahari.
***
Om voor die handliggende redes was Juanita nie gretig om met my hieroor te praat nie want haar ervaring van die Covid-19 pandemie op Rehoboth was traumaties. In die ontvangs van die hospitaal, was sy deel van die voorlyn wat die pandemie direk ervaar het, en self verlies gely het.

Comments
Post a Comment