Sy is 'n korterige vrou in 'n bruin slooprok en plakkies. Sy het 'bottel bene' soos hulle sê en ronde boarms wat sy met moue probeer wegsteek. Haar lig van kleur hare is met 'n rekkie vasgemaak en wanneer sy stap, kyk sy af na die grond. Haar groen oë skuil agter 'n bril en hulle soek-soek soms in andere se gesigte, se oë, rondom die monde, vir vriendskap of vyandskap.
Daar is niks in haar woorde, antwoorde en geselskap wat die tragedie verklap waarmee sy daagliks saamleef nie.
Sy plant lelies in Rehoboth se vaal sand, maak plastiek bottels bymekaar en omring hulle daarmee om beddings te vorm. Sy vee elke oggend haar stoepe af. Drie hondjies volg haar oral rond; Steffie, 'n swart tefie, Bruno, met sy pragtige skakerings van bruin, en Goretjie, 'n ou reun.
In 'n hangkas in haar slaapkamer hou sy 'n blik vol fotos en een van hulle is hy.
Hulle, hy en Juanita, was saam op kleuterskool, laerskool, daardie jare was dit nog Sub A en Sub B en Standerd 1... Elkeen het apart en tog saam hul kindertyd spandeer. Hulle was in dieselfde klas, vertel sy, geweet van mekaar, maar nooit vriende nie.
Op hoërskool, in verskillende klasse, het hulle mekaar anders begin aanskou en gehou van wat hulle sien. Soos normale tieners het hulle vir 'n lang tyd op skool dit net daar gehou en nie regtig gesels nie want albei was skielik skaam vir mekaar.
'Vreemd hoe dinge kan verander, nê?'
Toe sy Standerd 8 druip en die skool los om werk te gaan soek, het hy heeltemal uit haar lewe verdwyn. Nou en dan het sy hom iewers in 'n winkel gekry en net gegroet, of iewers heen gesien stap. Sy het gesien hy word langer, sy liggaam voller maar, wat in sy lewe op daardie tydstip aangegaan het, weet sy tot vandag toe nie.
Sy het werk in ontvangs by die plaaslike hospitaal gekry, haar eie woonstel gehuur, 'n verhouding gehad en 'n seuntjie gekry. Die verhouding het kort daarna skipbreuk gely.
Jare later, steeds by die hospitaal, sien sy hom daar op 'n dag, en hy was anders as wat sy kan onthou. Hy het haar vol selfvertroue, soos 'n groot mens, gegroet en met haar gesels, en skielik was hulle, soos destyds, daarvan bewus dat hulle steeds van mekaar hou. Hy het haar nommer op sy selfoon gestoor en gevra of hy haar mag bel.
'Ons was op daardie tydstip werklik verskillende mense as die kinders wat saam op skool was.'
Soveel het intussen gebeur.
Sy verhaal was kort: Hy het na skool op Swakopmund gaan werk, daar verloof geraak, en getrou. Hy het twee kinders. Na baie jare saam het hy en sy vrou geskei en woon sy steeds op Swakopmund. Hy het teruggekeer na sy geboortedorp, Rehoboth, na sy mense. Hy werk nou in Windhoek, ry heen en weer met 'n geleentheid.
Sy hou ook haar verhaal kort, soos hy: Sy het 'n tiener seun. Dié se pa het verdwyn toe hy amper twee jaar oud was en nooit weer in verbinding met haar getree nie. Sy hoor gereeld dat hy glo waar en waar is, en dit en dat doen, maar sy het trots; sy en haar kind sal hom niks vra nie - nie geld óf erkenning nie.
'Die tyd was reg vir ons albei.'
Hulle begin versigtig met 'n verhouding. So versigtig soos sy vandag nog stap, deur af grond toe te kyk om te sien waar sy trap, só het hul verhouding begin.
Hy het die leiding geneem, nie soos haar vorige verhouding nie waar sy die leiding geneem het en aanhoudend uitgereik het, soms soos 'n las gevoel het, maar tog haar beste probeer het om die verhouding te laat werk.
Hy het hul uitstappies gereël, inkopies saam met haar gedoen, vriendelik teenoor haar seun opgetree, teenoor haar broers en familie, haar gereeld gebel, gereeld gekuier... Sy dieselfde.
'Maar iets het hom op 'n afstand van my gehou. Ek weet nie wat nie.'
Sy kon nie haar vinger daarop druk nie maar, hy was heeltyd koud en warm. Hy het alles reg gedoen, ook wat van hom verwag word, en tog was dit asof hy dit móés doen, nie wou nie. Sy weet hy was tevrede met haar en hul verhouding, met die algemene stand van sake. Daar was soveel wat hy nie met haar wou bespreek nie, haar nie wou vertel nie.
'Sy hart was in niks nie.'
Soos baie ander jong mense op Rehoboth, het hy met sekere verwagtinge en vooroordelings groot geword. Hy het gedoen wat van hom verwag word, na sy ouers geluister, geglo waaraan hulle glo, gehelp waar hy kon en moes, lojaal gebly aan die kerk en gemeente waarin hy gedoop is, hy - hy was egter baie lief vir sy gewese vrou. Hy het gedink sy was natuurlik baie mooi. Alles aan en van haar was vir hom mooi: Haar reuk, haar stem, haar lag, haar maniere, en gewoontes... Hy het nog nooit vantevore só oor enigiemand gevoel nie.
'Wanneer het dinge verkeerd geloop?'
Hy het nie eens agtergekom nie, niks vermoed nie. Die ondeunde uitdrukking in haar oë was nog daar, toe is dit weg. In die laaste jare kon sy skaars met hom glimlag. Hy kon nie aan haar vat nie dan stoot sy hom weg, vermy sy hom. Hul kinders het lankal vermoed iets is verkeerd tussen hul ouers en apart met hulle gepraat, nie saam nie soos voorheen, toe hulle kleiner was. Die laaste braai langs die see het sy vrou nie bygewoon nie; inteendeel, hul dogter het die roosterbrood en slaaie gemaak.
Dis nie hoe sy ouers, en al die ander grootmense in Rehoboth wat hy ken, onder wie se oë hy groot geword het, se huweliksverhale verloop het nie. Hy het gedog iets pla haar net, sy sal daaroor kom, soos voorheen, en weer haar ou self word, haar regruk. Hy en sy vrou was nie veronderstel om te skei nie, en tog...
Hy staan weer in die sand en stof strate van sy ou buurt waar hy as kind kaalvoet agter 'n ou motorband aangehardloop het, of winkel toe en terug geloop het, hierdie keer sonder haar en hul kinders.
'Hy het gebel om te sê hy is siek.'
Juanita het tydens die Covid-19 pandemie genadelose ure in die hospitaal se ontvangs gewerk. Dit was uitputtend om lang skofte met 'n masker op te verduur terwyl haar kollegas gereeld getoets en afgeboek word. Hulle moes vir tien dae in isolasie bly. Sy het gedog sy spring dit vry totdat sy op 'n dag positief toets; haar temperatuur op die sekuriteitswag se termostaat was bo gemiddeld.
Hy bel haar gereeld terwyl sy isoleer, hulle praat oor alles, sy vertel hom dis net 'n ligte verkoue, sy drink Panado. Ná tien dae is haar uitslag egter steeds positief. Sy voel gesond maar, die hospitaal sê sy moet aanhou isoleer. Haar seun bly by haar ma en broers in hul ouerhuis. Sy voel gefrustreerd en eensaam in haar woonstel.
Hy gaan kuier by haar. Hy het vir haar inkopies gedoen. Sy is verlig en bly om hom te sien. Ek is gesond, verseker sy hom. Hy glimlag darem, dink sy, hy was bekommerd. Só baie mense sterf daagliks, mense wat hulle albei ken. Hulle het ten minste nog mekaar.
Hy bel sy kinders op Swakopmund. Dis grendeltyd en die paaie is net gangbaar vir noodsaaklike dienste. Besighede en skole is landwyd gesluit. Desondanks styg die aanstekingsyfer daagliks nes die dodetal. Hy wil weet hoe dit met hulle gaan, en met sy gewese vrou. Sy kinders wil hom nie vertel dat sy iemand nuut ontmoet het nie. Hy vind in elk geval met 'n kronkelpad uit.
Sy pa en ooms was mans wat nooit uiting aan hul gevoelens gegee het nie; jy sou nooit weet hulle voel hartseer, of vernederd, of terneergedruk, of verwyte nie. Hulle het alles en enigiets wat hulle emosioneel maak of swak laat lyk vermy, en hy boots hulle getrou na, gedra hom soos hulle want hy ken niks anders, selfs die leerband om sy middellyf lyk soos hulle s'n.
Juanita was besig om klere met die hand te was toe hy bel om te sê hy kan nie 'n draai maak nie, hy voel nie lekker nie, hy sal 'n Grand-pa drink en maar gaan lê.
Toe sy hom later probeer bel, antwoord hy nie. Om die uur bel sy; die selfoon lui net.
Vroeg die volgende oggend kry sy 'n boodskap van 'n kollega by die hospitaal dat hy die vorige nag opgeneem is, weet sy daarvan? In die isolasie eenheid, waar hy nie besoekers mag ontvang nie, sy toestand is kritiek, hy is op suurstof...
Sy trek haar plakkies aan, sit 'n masker op, en stap hospitaal toe, die asemhaling vlak in haar bors, agter die masker brand die lug deur haar neus.
Hulle wil haar nie inlaat nie. Sy mag hom nie sien nie. Sy ken mos die reëls, sê die dokter aan diens kortaf en ongeduldig by die deur, dit gaan nie goed met hom nie.
Sy is verslae, verstom oor die spoed waarteen so iets kan gebeur.
Terug by die woonstel kry sy 'n boodskap: Hy is so pas oorlede.
Sy kon dit nie glo nie, kan dit steeds nie glo nie.
'Mense in wit pakke het hom begrawe.'
Alles was so vinnig, té vinnig vir haar. Die doodstyding en die kennisgewing van sy begrafnis het kort op mekaar gevolg. Syne was een van agt begrafnisse daardie dag en net tien mense mog dit bywoon.
Haar voorkop frons toe sy die vars hope grond nuwe grafte onthou wat oral om hulle gelê het en groepe mans wat terselfdetyd haastig nóg nuwe grafte grawe...
Sy gewese vrou en kinders was nie daar nie. Op die hout kruis is net sy voorletters en van aangegee, saam met sy geboorte-en sterftedatums. Iemand het 'n ronde ruiker plastiek blomme met 'n wit, plastiek duifie bo-op, op sy graf geplaas. As gevolg van die masker, kon sy nie sien wie dit was nie; sy het ook nie die kaartjie daarop gelees nie.
Agterna het sy op haar enkelbed in die woonstel gaan sit en vir ure by die venster uit gestaar. Sy kon niks sien nie, en as sy het, kan sy nie onthou wat sy gesien het nie, die masker steeds op haar gesig, vergete. Toe die son sak en donkerte die woonstel omhul, het sy eenvoudig op haar sy gelê en netso, in haar begrafnisklere, op die enkelbed aan die slaap geraak.
Sy was kwaad daarna, hoekom weet sy nie.
Sy het niemand meer gehad om mee te gesels nie. Alles het so vinnig gebeur.
Sy het elke dag by die venster gaan sit en steeds niks gesien nie totdat die hospitaal haar gebel het om terug te gaan werk.
Terwyl sy die telefoon weer moet antwoord, boodskappe neerskryf, oproepe maak, mense groet... Hy was net nóg 'n nommer vir 'n siekte, 'n naamlose getal op 'n daaglikse verslag, net nóg 'n hoop sand in die Kalahari. Háár hoop sand...
Asof hulle kan aanvoel sy is ongelukkig, staan die hondjies by haar voete en kyk op na haar. Hul stertjies waai stadig heen en weer. Bruno, die jongste, lek haar tone.
Om die soom van haar bruin slooprok is 'n valletjie waarna sy nou staar. Uiteindelik stof sy iets maar tog niks van die rok af, kyk op, en dan na haar tuintjie.
'Ai, wat help dit...laat ek opstaan. Die lelies moet water kry.'
***
Om voor die hand liggende redes was Juanita nie gretig om met my oor haar ervaring te praat nie want die Covid-19 pandemie op Rehoboth was vir haar, soos vir vele andere, traumaties. In die ontvangs van die plaaslike hospitaal, was sy een van vele gesondheidswerkers wat op die voorlyn gewerk en persoonlik verlies gely het.

Comments
Post a Comment